Tata US. Tata Wes-Kaap.

Ek pak alweer my lewe in bokse. Vir die 7de keer in 7 jaar. Die eerste 4 keer was dit heel eenvoudig omdat ek net van een kamer na ‘n nuwe kamer in die koshuis getrek het. Vandaar was dit na my flat in Stellenbosch, toe na my flat in Bellville en nou pak ek alweer my flat in Durbanville op. Hierdie keer gaan ek al die pad na Port Elizabeth. Ek los ook vir die eerste keer in 7 jaar die studentelewe agter. Nuwe provinsie, nuwe lewe, nuwe hoofstuk. Dis maar ‘n vreemde gevoel. Steeds onwerklik. Die feit dat daar nog ‘n eksamen tussen my en my nuwe hoofstuk lê, help beslis. Asook die feit dat ek nie my elektroniese klavier terug in sy boks kan kry nie. Dis soos ‘n legkaart met baie hardkoppige stukkies.

Lees voort

Weeklikse Wonders #3

Hier is my lys van Weeklikse Wonders!

Dit kan enigiets insluit: ‘n oulike ontdekking, ‘n ongelooflike ervaring of net die genot van alledaagse dingetjies in die lewe! Die verantwoordelikheid is op ons skouers om die mooi in die alledaagse te vind, of selfs die mooi in die lelike dae te vind. Dis ons eie verantwoordelikheid om skoonheid en inspirasie te vind in dinge wat vreemd of onvolmaak voorkom (dis juis in hierdie goed wat die interessante kant van die lewe lê!). Ons moet ons oë oophou om die vreugde in onverwagse dinge te vind sodat ons kan leer om te waardeer wat ons het. Dit is dan ook ‘n uitdaging om die mooi dinge in jou week raak te sien en te waardeer! 🙂

So kom ons kry eers die olifant uit die pad… Ja, ek het baie lanklaas iets neergepen en hierdie weeklikse wonders is ‘n hele paar weke overdue! Maar ek was vir ‘n rukkie oorsee, sonder internet en met te veel om te ervaar om stil te raak en te skryf. Daarom is hierdie blog meer ‘n Monthly Musings as enigiets anders.

Lees voort

Weeklikse Wonders #2

Hier is my lys van Weeklikse Wonders!

Dit kan enigiets insluit: ‘n oulike ontdekking, ‘n ongelooflike ervaring of net die genot van alledaagse dingetjies in die lewe! Die verantwoordelikheid is op ons skouers om die mooi in die alledaagse te vind, of selfs die mooi in die lelike dae te vind. Dis ons eie verantwoordelikheid om skoonheid en inspirasie te vind in dinge wat vreemd of onvolmaak voorkom (dis juis in hierdie goed wat die interessante kant van die lewe lê!). Ons moet ons oë oophou om die vreugde in onverwagse dinge te vind sodat ons kan leer om te waardeer wat ons het. Dit is dan ook ‘n uitdaging om die mooi dinge in jou week raak te sien en te waardeer! 🙂

Lees voort

Weeklikse Wonders #1

Hier is my lys van Weeklikse Wonders!

Dit kan enigiets insluit: ‘n oulike ontdekking, ‘n ongelooflike ervaring of net die genot van alledaagse dingetjies in die lewe! Die verantwoordelikheid is op ons skouers om die mooi in die alledaagse te vind, of selfs die mooi in die lelike dae te vind. Dis ons eie verantwoordelikheid om skoonheid en inspirasie te vind in dinge wat vreemd of onvolmaak voorkom (dis juis in hierdie goed wat die interessante kant van die lewe lê!). Ons moet ons oë oophou om die vreugde in onverwagse dinge te vind sodat ons kan leer om te waardeer wat ons het. Dit is dan ook ‘n uitdaging om die mooi dinge in jou week raak te sien en te waardeer! 🙂 

Lees voort

Oor studentwees, vertrou en ‘n seisoen van herfs…

Na aanleiding van Scrapydo se toeka-tokkel oor studentwees, het ek besluit om ietsie te deel oor my studentejare. Maar ‘n mens kan ook nie sommer net iets deel oor jou studentejare en jou hart verberg hou nie. Daarom is hierdie meer ‘n stukkie getuienis as ‘n stukkie deel. Na ek my graad gekry het in 2011 het ek voor ‘n kruispad te staan gekom. Ek het al ‘n geruime tyd vermoed dat ek nie in die regte rigting studeer nie en het sodoende nie meer vrede gehad oor my pad vorentoe nie. Na baie worsteling, bid en lang gesprekke met my ouers het ek 2012 ingegaan as ‘n eerstejaar Spraak-, Taal-, en Gehoorterapie student. Die hele jaar was een groot seëning na die ander soos ek al hoe meer besef het dat my liefdes vir taal, medies en mense hierdie kursus die plek maak waar ek hoort. Min wetend sou hierdie nuwe avontuur my lei na ‘n seisoen van herfs.

Toe die aanvanklike opwinding bedaar, het ek besef dat hierdie keuse my nog vier jaar ‘n student sou hou, iets wat nie voorheen vir my enigsins na ‘n probleem geklink het nie. Tog, met al my hartsvriende wat weggetrek en die werkende lewe betree het, het ek stadigaan begin voel asof ek agtergelaat is terwyl almal anders vorentoe beweeg. Ek het myself ook bevind op ‘n nuwe kampus, in ‘n nuwe dorp en in ‘n nuwe kerk. Eweskielik het finansies ook al hoe groter probleem begin raak. Met my eerste graad het ek maklik finansiële hulp ontvang, maar die tweede een het moeiliker bewys. Nie net het my vrede begin kwyn nie, maar die tekort aan finansies vir hierdie ietwat langer pad wat ek gekies het, het my sekerheid en vertroue ook laat wankel. Ver weg van die mense wat my die beste ken, het die aanslae van die lewe makliker hulle teiken gevind.

Twyfel is ‘n snaakse ding. Jy laat ‘n klein gaatjie oop en as jy dan nie keer nie, druk hy met sy vet lyf hom daardeur en breek dan sommer die hele weerstandsmuur af. Ek het my vreugde verloor in my studies en nie moeite gedoen om nuwe mense te ontmoet of tyd te maak vir ou kennisse nie. My imuunstelsel het ook sommer teen my begin draai en ek was gereeld siek en het ure verby geslaap.Vir die eerste keer in my lewe was ek skoon geïriteerd wanneer my ouers vir my sou sê dat alles gaan uitwerk, want die Here voorsien mos. My ma het dit depressie genoem, my pa het dit my rouproses genoem, my doktor was seker dit is uitbranding, maar al waaroor ek op hierdie stadium seker was, is dat dit nie hoe ek my pad beplan het om te wees nie.

Ek het êrens gelees dat mense is geneig om die hele week te wag vir Vrydag, die hele jaar vir somer en hulle hele lewe vir geluk. Hoe waar is dit nie? Om net te leef vir Vrydag en somer, mis jy so baie. Soos ons kyk hoe blare na die grond val tydens herfs, so word ons dan ook herinner aan hoe die natuur se siklus ons eie lewenssiklus weerspieël. Herfs is basies die tyd vir laat gaan. Alles waaraan jy swaar dra, alles wat ‘n las en ‘n bekommernis is, moet afgeskud word. Herfs is die perfekte tyd om te oefen om terug te staan en die Heilige Gees die kans te gee om oor te neem. Wanneer al die blare afgeskud is en jy dan broos voor die Here staan, is dit wanneer jy Sy omhelsings die beste kan ervaar.

Ek en my ongelooflik ouers het die Maandagoggend na Paas Sondag van verlede jaar vroeg deurgery Waenhuiskrans toe en in ons sweetpakbroeke en warm baadjies styf teen mekaar op die strand gaan sit. Soos die oggendson die donker massas water stadigaan laat skitter het, het ons saam gebid en die Here geloof vir Sy getrouheid tydens alle seisoene. Ek het ’n volledige beurs gekry vir my laaste twee jaar van studies en raak elke dag meer verlief op my werk en waarheen dit besig is om my te neem. Ek is toe sowaar waar ek moet wees, maar ek moes eers alles oorgee om tot daardie besef te kon kom. Jy kan jou pad beplan soos wat jy wil, maar die Here bepaal hoe jy dit loop. Of soos my ongelooflik flatmate, en my “accountability partner” altyd sê: Jy het net een legkaart-stukkie en probeer so erg sin maak van die klein deeltjie wat jy kan sien, dat mens dan skoon vergeet van die Skepper wat die groter prentjie ingedagte het en presies weet waar daardie stukkie geplaas moet word. Wees net stil en weet.

Reg deur die Bybel lees ons van mense wat monumente bou op die plekke waar die Here hulle kom verlos het, of kom red het, of ‘n wonderwerk kom doen het. Die monumente staan dus as tekens dat die Here getrou is aan Sy woord en Hy ons nooit sal verlaat nie. Wanneer hulle dan weer by hierdie plek sou verbygaan kon hulle net na die monument kyk en onthou dat die Here oneindig goed is en daar geen einde aan Sy liefde is nie. Ons is dikwels so lief vir die lig en so bang vir die donker dat ons vergeet dat dit juis in die donker tye van winter is waar ons die Here se sterre die helderste sien. Daarom moet ons juis juig as herfs ons lewe betree, want dit bring winter en ‘n geleentheid om weer te leer oor vertrou en afhanklik wees van die Here. Maar dit is makliker gesê as gedaan en sodoende moet ons monumente bou om die twyfel weg te hou as die eerste blare van herfs begin val.

Ek persoonlik hou daarvan om neer te skryf elke keer as die Here Homself aan my openbaar deur beloftes en gebede na te kom of as Hy iets wonderbaarliks, al is dit hoe klein, in my lewe doen. Hierdeur kan ek dan, as “twyfel se swart moer sak” (B. Breytenbach) terugkyk oor my lewenspad en oor al die monumente lees en opnuut weet: “Ek het die Here altyd by my en omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie” Ps. 16:8. Hy is wie Hy is maak nie saak in watter seisoen ons onsself bevind nie; ons moet net ophou om elke herfs te vergeet van Sy getrouheid gedurende die vorige herfs. Daarom as hierdie seisoen jou geloof bedreig, moedig ek jou aan om net te onthóú. Hou vas aan die herinnering van God se dade in jou lewe, asook sy beloftes vir die toekoms.

Aan ‘n kleurvolle ma

Moedersdag. ‘n Dag om die spesiale mens wat aan jou geboorte geskenk het te eer. Ek is redelik seker dat die meerderheid van die populasie doodseker is hulle het die beste moeder in die wêreld, maar om eerlik te wees, ek het met my gat diep in die botter geval. Ek het die tipe ma wat as ek huis toe bel en vra of daar dalk ‘n leë roomysbak is wat rondlê vir terapie-doeleindes, die arme persoon wat dit vir my moet bring met ’n swartsak vol roomysbakke opdaag. Moeder het dan omtrent al die dorpsmense uit hulle leë roomysbakke gecharm. Ek vra vir ‘n sekere kinderboekie oor troeteldiere wat ek weet in die buitekamer lê… Drie plastieksakke vol boeke oor wilde diere, troeteldiere, plaasdiere, seediere you name it word by my afgelewer. My jonger sussie noem so in die verbygaan vir Moeder dat sy ‘n taak het oor Egipte. Dis nie ‘n paar uur nie en die hele biblioteek se versameling boeke/artikels/koerantberigte oor Egipte (en sommer al die buurlande) lê op haar bed.

Ek moet in my derdejaar ‘n dans reël en wonder half hardop hoe ons enigsins iets kan bereik met die klein begroting. Twee weke later bel Moeder. Die plaaslike wynplase het meer bottels wyn geskenk as wat omtrent toegelaat word by die dans. Menigte verjaarsdae sal haar vriendinne my beetkry en sê “Ek het ‘n voucher by Foshini vir jou ma gegee. Maak asseblief seker sy spandeer dit op haarself dié keer?”. Teen hierdie tyd is ek ook al doodversigtig om my ma in te lig wanneer my geldsake bietjie beroerd lyk. Ek weet sy sal haar hele salaris vir my oorbetaal as sy hoor, sonder om natuurlik twee keer te wonder oor wat sy dan sal doen sonder dit. My ma gee en doen alles in oorgawe. Geen pretensies en geen agendas. Nie net vir dié wat sy ken nie, maar ook enigiemand wat gelukkig genoeg is om oor haar pad te kom.

Ek het die tipe ma wat mense so inniglik lief het dat niemand imuun is teen haar deel-met-my-aura nie. Ek onthou een dag wat my ma vir my kom kuier het by Nerina, my universiteitskoshuis in Stellenbosch. Ek moet gou ophardloop na my kamer om iets te kry en my ma besluit om onder te wag. Saam met haar is drie manne wat wag vir hulle ander helftes. Met my handsak weer in my hand, kry ek Moeder onder en vra haar of sy reg is vir ons lunch-date. Op pad kar toe groet sy die manne: “Chris, sterkte met daai belasting eksamen. Pieter, wees sag op haar hart ne? Totsiens, Willie, geniet die naweek in Hermanus!” Ek kyk verward na my horlosie, maar ek was skaars 10 minute weg.

My pa vertel dat hulle langs ‘n nors Duitse omie op ‘n boot beland op hulle Europese vakansie. Die begin gesprekke het omtrent so verloop:

Mamma: Hallo, are you on holiday as well? Omie: Yes.

Mamma: It’s beautiful here isnt it? Omie: Yes.

Mamma: Is it just you and your wife? Omie: Yes.

Mamma: Do you have any kids? Omie: Yes.

Aan die einde van die bootrip sit Moeder en die omie heerlik aan die gesels terwyl hy met sy selfoon vir Moeder al sy kinders en kleinkinders wys en elkeen se lewensverhaal vertel. Hulle klim as boesemvriende van die boot af.

Die kinders vir wie sy al skool gegee het noem haar nie verniet Juffrou Liefie nie. Sy stap ook nie sommer in ‘n winkel in en kom vyf minute later uit met die brood wat sy moes koop nie. Sy is dalk baie kort, maar jy kan haar nie mis. Meeste van die tyd omdat haar hippie/artist gees haar in reënboogkleure (en -klere) verf waarvan die een nie noodigwendig by die ander een hoef te pas nie (ook nie noodwendig die een oor se oorbel by die ander een nie.) Maar jy kan haar nie mis nie want haar hele persoonlikheid nooi jou nader. Soos motte beweeg mens nader aan die lig, omdat sy die Lig uitstraal.

My tannie vertel dat die Hollanders in hulle klein Hollandse dorpie nie gewoond is aan drukkies nie, maar na my ma daar weg is kry hulle ontrekkingssimptome van die kort vroutjie met die krulhare wat hulle net beetkry. “Ek ken nie eers so baie mense in Haren soos jou ma nie en ek bly al 14 jaar hier” terg my tannie. My ma se beste vriendin beaam: “Ja, daai Hollanders is deur ‘n drive-through ministry met jou ma.”

Ek kon dit nie beter opgesom het nie. Mense kan nie my ma ontmoet en nie oorweldig word deur Christ-like, onvoorwaardelike liefde en omgee nie. Nog nooit het ek my ma iets slegs hoor sê van iemand nie. Nog nooit het ek my ma iemand in nood sien ignoreer nie, al is dit net vir ‘n gebedjie wanneer sy nie iets konkreets kon gee nie. Tog het ek haar ook gesien al haar laaste sente gee vir iemand, alhoewel daai sente dit nog tot by Spar moes haal vir een of ander benodigheid. Geïriteerd sal ek dan vra “nou wat nou Mamma?”, waar sy altyd doodrustig sal antwoord dat die Here sal voorsien. And He always did. My ma het ‘n kinderlike geloof en vertroue in haar Hemelse Pappa wat ek beny en elke dag nastreef.

Ons spot ook gereeld dat sy definitief ‘n direkte lyn het na die Here. Menigte pelle het my al gebel en gesê dat hulle ‘n groot eksamen het so kan ek asseblief my ma vra om te bid. Baie gesprekke in my universiteitsloopbaan het ook al so verloop: “Mamma, Vrydag se eksamen is maar ‘n bulletjie!” “Ag nee wat liefie, ons bid hom tot n verskalfie…” My jongste sussie bel my ook nou die dag en kla: “Mamma het nou net in Jet besef Niggie moet haar lisensie kry vandag en toe begin sy kliphard bid! In Jet! Ek het nie ‘n probleem met bid nie, maar kliphard in Jet?!” Ek lag heerlik en verseker haar dat sy eendag nog baie dankbaar gaan wees vir hierdie klipharde bidsessies. Hierdie direkte lyn het ook al menigte kere gemaak dat Mamma op die regte tye bel en al die regte vrae vra. Die Heilige Gees het in haar ‘n gewillige instrument gevind om ander by te staan wanneer hulle dit nodig het.

Al kan ek skaars ‘n fliek se dialoog hoor wanneer ons dit saamkyk, of al eet Mamma al die icing van ‘n koek af, ek is trots om jou kind te wees. Ek is trots op die feit dat almal sê hoe dieselfde ons lyk en klink en dat Facebook my heeltyd wil tag as Mamma. As ek die helfte kan word van wat Mamma is, sal ek dankbaar wees. Ek is trots op die feit dat my vriende kom kuier by die huis en met die pad terug net heeltyd ons familie-dinamika bewonder. Dit spreek boekdele oor hoe ons grootgemaak is. En hoe dan anders met die definisie van liefde en Liefde saam met ons in die huis. Geseënde Moedersdag my merkwaardige Mamma xx

374578_10150403126352060_1172586738_n

‘n Kort Stukkie Nostalgie

Met Scrapydo2 se opdrag om ietsie op skrif te sit oor die voorwerp huis, word ek onmiddellik teruggeneem na my grootwordjare op ‘n klein plekkie in die Noord Kaap met die naam Carnarvon. Daar is iets blywend aan die plek wat jy heel eerste “huis” genoem het, maak nie saak hoeveel jaar jy nou al daar weg is nie. Maar daar was ook iets magies aan hierdie klein dorpie en ons massiewe huis. Ek glo vas dat my ryke verbeelding hier tussen die rooi sand en stof vlerke gekry het.

Die somers was onmenslike warm, droog en stowwerig. Die winters het weer haelstorms en somtyds, sneeu gebring. Een jaar het die hael omtrent elke venster van ons huis vernietig en ek het die volgende oggend haelstukke so groot soos tennisballe versamel en die vrieskas vol ‘snooiballe’ gepak.

http://www.carnarvon.co.za/Ons%20erfenis.htm
VG kerk Pastorie te Carnarvon http://www.carnarvon.co.za/Ons%20erfenis.htm

Die VG kerk pastorie wat ek huis genoem het is ‘n 1912 imposante Eduardiaanse woning met ‘n hoë dak, kaggels in elke kamer en ‘n stoep reg rondom die huis. Ek het leer fietsry in die breë gange. Die huis het permanent gekraak en gesteun en sodoende het my ouers altyd gesukkel om iemand te kry om die huis op te pas wanneer ons weg is. Die een ouderling wat dan altyd ingestaan het, het maar in die aande met ‘n knopkierie onder sy kussing geslaap om die spoke weg te jaag.

Ons huis, die pastorie, sowel as die VG kerkgebou is in 1993 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit is tussen ‘n kleuterskool en ou, verlate biblioteek geleë en as ‘n rabbedoe kleuter het ek en my (meestal) seunsmaatjies gereeld oor die hoë mure geklouter om alles te verken. Ek onthou juis toe ons sowat 4 of 5 was het ons probeer om met die Wilgerboom se hulp vanaf die muur na die grond toe te swaai (Tarzan-style) om natuurlik baie vinnig en baie hard terug aarde toe kom. Ek het ‘n paar skrape opgedoen, maar my maatjie Jaco moes ‘n paar weke in gips deurbring. ‘n Ander keer het ons na-ure weer oor die muur geklim om die kleuterskool se klimraam te benuttig. Ek het onderstebo aan my knieë gehang en toe Jaco dit wil probeer, val hy hom weer te pletter. Dié einste het ook eendag besluit hy gaan my leer swem, maar die enigste bietjie water wat ons op daardie stadium kon vind was die munisipaliteit se visdam. Groot was die munisipale werkers se verrassing toe hulle ‘n hulpkreet hoor en ‘n klein, blondekop dogtertjie borshoogte in groenerige slymwater in die middel van hulle visdam vind.

Saam was ek en Jaco maar ‘n handvol en het gereeld ons oppassers ontduik. Ek onthou my onsteltenis toe hy begin skoolgaan en my agterlos by die kleuterskooltjie. Daar het hy natuurlik vinnig besef ek is eintlik ‘n meisie en seuntjies is nie maatjies met meisies nie. Dit het gelukkig nie lank gehou nie en ons steeds boesemvriende, al is hy nou ‘n wêreldsreisiger. Elke nou en dan wanneer ons opvang, praat ons steeds met groot glimlagte oor ons Carnarvon eskepades en die ure se wegkruipertjie in die ou huis met sy baie kamers.

Freda Rothwell (1937-2015)

Here, ons val voor U neer
voel U almag oor ons skyn
wetend dat voor U aangesig
sal al die vrae verdwyn.
Nog ‘n pêrel is afgemeet,
opgetel en teruggeneem.
Ons wees stil en weet
U is God alleen
Dit soek nie moeilikheid nie
Dit vra ook nie iets van jou
Tog begin oë kleur sien
warmte ontstaan uit die lou
Hoe soet klink die klank
van klein ontkiemde sade
Ek skree met alle eerbied God!
O groot is die Genade

April Inspirasie

Willem en ons dirigent, André van der Merwe
Willem, sy gidshond, Franklin, en ons dirigent, André van der Merwe

In die kort April-vakansie lees ek weer uit oudergewoonte Antoine de Saint-Exupéry se De Kleine Prins. Tussen al die woordjuwele vind ek hierdie sin: “Maar als de ogen zijn blind, met het hart moet men kijken.” Met daardie woorde voor my oë, reis my gedagtes na Willem Venter, my blinde mede-koorlid. Ek en hy het vir vier jaar saam in die Stellenbosch Universiteitskoor gesing en deur die jare het ek hom leer ken as iemand wat alles met sy hele hart aanpak, en hierdie is dan ook die geval met sy toewyding tot die koor.

In 2010, toe Willem vir die eerste keer by die USK aansluit, kon hy slegs die lirieke van die musiek tot braille getranskripeer kry. Vir die gemiddelde koorlid is dit al klaar ’n groot uitdaging om die woorde, ritmes en wysies van verskeie werke vir die repertoire oudisies betyds onder die knie te kry. Neem die hulp van die bladmusiek weg en jy kry ’n idee van Willem se uitdaging om die musiek op die oefen CD by die woorde te pas, aan te leer en natuurlik, te onthou.

Willem het geen musikale kwalifikasies nie en moes in 2011 sonder opleiding aanleer om braille musiek te lees toe hy vir die eerste keer die bladmusiek kon transkripeer. Tog is dit blykbaar iets waaraan jy moeilik gewoond raak. Dit is ietwat problematies om woorde en note gelyk te kan lees en daarom maak Willem steeds baie op sy geheue staat. Gelukkig is sy geheue al goed ingeoefen vir hierdie taak. Hy was ook nie op daardie stadium verniet besig met sy meestersgraad in Wiskundige Wetenskappe nie.

Op die vraag of hy dink hy ervaar die musiek anders as sy siende mede-koorlede, antwoord Willem onmiddelik instemmend. Hy verduidelik dat hy dink alle mense ervaar dinge op ’n ander manier, ongeag of jy ’n sintuig of twee kort. André is ’n uitstekende dirigent in die manier hoe hy ’n groot groep individieë neem en ’n pragtige homogeniese klank kan voortbring uit mense se verskillende ervarings en belewings van die musiek. “Dis natuurlik ook ’n goeie ding dat ek nie vir André in sy nagklere kon sien nie”, voeg hy met ’n ondeunde glimlag by. (Ons het jaarliks ‘n ‘pajama party’ oefening gehad en ons geliefde dirigent was altyd ‘n bok vir sports!)

Franklin, Willem se gidshond, word al gesien as deel van die koor en geniet die aandag en opwinding vreeslik. Al die koorlede dink dat as Franklin kon, sou hy die oefeninge om lag vir al André en die koor se manewales. Op die koortoere kan Franklin ons ongelukkig nie vergesel nie, maar getrou aan die USK se reputasie as familie, is daar altyd ’n gewillige hand om as gids in te staan.

Willem erken dat sy grootste vrees was dat hy nie goed genoeg sou wees om te kan byhou nie, want niémand wil die persoon wees wat die koor terughou nie. Tog, soos Ray Charles, die bekende blinde musikant gesê het: “Daar is baie speke op ons lewenswiel, maar ons is eerstens hier om nuwe moontlikhede te ontdek”. Willem, getrou tot sy natuur van lewe met oorgawe, het die nuwe moontlikheid met albei hande vasgegryp en van terughou was daar nog geen sprake nie.

Op ‘n ander noot, kyk die voorskou van The little prince! Ek kan nie wag nie*

Oorspronklik geplaas op die USK blog