Hoop

die lus in die blare is aan die kwyn

winter heers waar waarheid dwaal

geen meer behofte om te bly hunker

en die bome staan weerloos kaal

 

hulle roep en ween

en niks verander

geen simpatie, geen toegee

die bladsye bly so leeg soos die takke

 

net die stille verstaan

waai die woorde weg

in die rigting van die blare

in die rigting van van lente

direk na die belofte van groen

en volheid

 

maar dit word teruggestuur

teruggedwing

nogsteeds naak

met geen takkie in die bek

Advertisements

Treurtog

“The use of traveling is to regulate imagination by reality, and instead of thinking how things may be, to see them as they are” Samuel Johnson

Die sterre hier is blinker, meer en sigbaar

soos die vlekke op ‘n jerboa-muis,

maar ek word terug huis toe geroep

deur die magnetisme van ons suiderkruis.

 

Soos Ares het ek met my wonde gevlug

tot die woede bedaar en die vrae opstoom

en ek het gebloei deur my ink en jou gebalsem

met gom en harpuis van ‘n huilende boom.

 

Deur my woorde langs die stofpad

het ek jou storie gesalf en geseën

en vir ‘n Chaabi profeet gegee

en gehoop en gebid vir reën

 

ten spyte van die ideologiese simmetrie

en die verveling van sandkleure, selfs in die dou

word alles wat eens stof was herontdek

en oplaas weet ek, ek is uitgedroom aan jou

Tata US. Tata Wes-Kaap.

Ek pak alweer my lewe in bokse. Vir die 7de keer in 7 jaar. Die eerste 4 keer was dit heel eenvoudig omdat ek net van een kamer na ‘n nuwe kamer in die koshuis getrek het. Vandaar was dit na my flat in Stellenbosch, toe na my flat in Bellville en nou pak ek alweer my flat in Durbanville op. Hierdie keer gaan ek al die pad na Port Elizabeth. Ek los ook vir die eerste keer in 7 jaar die studentelewe agter. Nuwe provinsie, nuwe lewe, nuwe hoofstuk. Dis maar ‘n vreemde gevoel. Steeds onwerklik. Die feit dat daar nog ‘n eksamen tussen my en my nuwe hoofstuk lê, help beslis. Asook die feit dat ek nie my elektroniese klavier terug in sy boks kan kry nie. Dis soos ‘n legkaart met baie hardkoppige stukkies.

Die ander koppige ene in die kamer is die klavier se eienaar. Ek gaan doodluiters aan met my alledaagse lewe en weier om te veel te dink oor hoe my lewe gaan verander. Tog raak hierdie aktiwiteit eksponensieel moeiliker soos ek moet begin met die “wat-alles-om-te-doen-voor-die-jaar-eindig-lysie”. Dié dat ek tans sukkel om arme Alicia (die klavier) in haar boks te kry. Wel tegnies sit ek nou voor die rekenaar met nog ‘n uitstekende metode van swot procrastination. 

Maak nie saak hoe hard jy probeer nie, jy kan net nie die realiteit vreeslik effektief ontduik nie. Almal wat jy raakloop wil hoor waar jy volgende jaar geplaas is. Familie-lede wil weet wanneer vang jy graad. Vriende wil weet wanneer is jou afskeidspartytjie.  Ouers wil weet of jy al verblyf gevind het in PE. Dit maak dit definitief moeilik om net te wonder wat jy vir aandete gaan maak.

Die waarheid is dat alhoewel ek met alles binne my net wil klaarmaak, ek nog nie reg is om totsiens te sê nie. My studentejare het hierdie buigbare en onsekere stukkie klei geneem en my onherroeplik gevorm in die mens wat ek vandag is. Ek het so baie geleer. Ek stap aan die einde van die jaar weg met soveel meer as my graad.

Eerstens, ek weet nou dat die kanse klein is dat my tydsbestuur ooit sal verbeter. Ek en the last minute is hopeloos te geheg aanmekaar. Things could be worse. 

Tee help vir basies alles. Geselskap saam met die tee – nog meer.

Ek kan in 10 minute reg wees vir enigiets. Grimering, hare, the works.

My liggaam kan funksioneer op ontsettend min slaap. (Vir ‘n ruk. Dan benodig ek mamma-liefde, my bed en baie vitamine C.)

Sukses is nie alles nie. Sukses is ook baie relatief. Besluit wat vir jouself belangrik is en hou op om jouself te meet aan ander se standaarde vir sukses. Dit hou jou net terug.

Studentekaarte is gemaak om verloor te word.

Dit is baie onnodig om te hard op jouself te wees. Give grace freely – to others and yourself.

Niks saai so erg paniek soos ‘n klomp klasmaats bymekaar tydens eksamens en assesserings nie. Kalm – loop ‘n paar klasmaats raak – raak aan die gesels oor ‘n toets en bam! So baie angs.

Jy kan nie jou hare by ‘n goedkoop salon laat ombre nie. Nie eers met jou studente begroting nie. Behalwe as jy wel gegaan het vir  die peroksied-kommin-ek-is-‘n-skunklook. Daar is sekere goed waarop jy maar jou oe moet toeknyp en die note moet uithaal.

Sommige kere gaan jou studiegelde na dosente wat woord-vir-woord ‘n presentation aflees. Tog is daar ook dosente wat jou so inspireer (en ook dalk intimideer) dat jy dalk sou opskop as dit nie vir hulle was nie.

As die kuierplek vol is gaan die bouncer jou nogsteeds nie inlaat as jy vir hom sê jy is eintlik Sporty Spice van Spice Girls nie. Veral nie as jy begin om “mama” met oorgawe vir hom te sing nie. Dit is immers heel duidelik dat jy nie Sporty Spice is nie (alhoewel jy in graad twee dalk vir ‘n kort rukkie in ‘n konsert hierdie rol met absolute passie vertolk het).

Besef eerder gouer as later dat jou foute jou nie definieer nie. Maar jou CV ook nie.

Daar is min dinge so lekker soos ‘n goeie danssessie saam met mense wat net so min omgee oor hoe julle lyk. Veral as jy en jou mede-“dansers” julle secret moves begin uithaal wat heel moontlik vir die onskuldige bystander mag lyk asof ‘n jellievis stuiptrekkings kry.

Jy moet alles doen wat jy kan, maar tog ook besef dat jy nie altyd alles kan doen nie. Bv. om in die sêr, kerkband, a cappella groep en universiteitskoor gelyktydig te sing bring dalk ‘n lewe vol musiek en geluk, maar dit bring ook moontlik nodules en swak punte. (Dit het heel moontlik ook nie gehelp dat jy tussen-in kliphard sing-skree in Aandklas nie, maar dit daar gelaat). Dus, balans, balans, balans. Akademie is belangrik, maar so ook jou vriende. Belangstellings is belangrik, maar so ook jou gesondheid.

Ek het geleer ek is ongelooflik bevoorreg. Ek het ouers wat my in alles sal ondersteun en absoluut enigiets vir my sal doen. Ek het vriende, familie en selfs vreemdelinge wat bereid was om iets vir my te betaal as finansies bietjie knyp was. Selfs toe ek moes werk terwyl ek studeer het, het ‘n ongelooflike werksgeleentheid met flexi ure en goeie betaling in my skoot geval. Ek kon ‘n beurs kry vir my laaste jare van studies. Ek kon 6 verskillende lande besoek tydens my studiejare. Ek kan nie aan een voorval dink waar ek persoonlik ervaar het dat ek teen gediskrimineer word as gevolg van my velkleur nie. Ek het ‘n kar en is nie afhanklik van enige (mostly unreliable) publieke vervoer nie. Op universiteit het ek geleer ek is ontsettend bevoorreg. Iemand anders, tien teen een iemand met ‘n ander velkleur as ek moes dalk baie harder werk as ek op universiteit – net as gevolg van hoe die dobbelsteen geland het. Dit is ongelooflik onregverdig en dit vat niks weg van my om dit te erken nie. Inteendeel, dit maak dat ek meer waardeer wat ek het en dit maak die behoefte om te fight vir dié wat nie so bevoorreg soos ek is nie, net groter. Ek het geleer dat jy niemand kan oordeel as jy nie hulle hele lewe geleef het nie en dit is nie iets wat moontlik is nie – so moenie oordeel en probeer net so klein bietjie verstaan.

Leer soveel moontlik mense ken in soveel verskillende plekke / situasies / kursusse ens ens as wat jy kan. Deur koorvriende, kerkvriende, klasvriende, gymvriende, kuiervriende, koshuisvriende van verskillende rasse, kulture, gelowe, opinies ens te ontmoet en te leer liefkry, verbreed jou horison en jou hart. As mense jou ongemaklik maak, kyk heel eerste na wat dit van jouself sê eerder as wat dit van hulle sê. Jy leer baie oor jouself op hierdie manier.

Ek het ook geleer dat almal iets waardevols kan bydra tot die geselskap. Dit is bitterlik ongesond om te dink dat jy alleen die beste antwoord het tot alle situasies. Elkeen se opinie word gevorm deur hulle eie kennis en ervarings en is daarom iets waarvan jy kan leer. Wees oop om te leer.

Ek het geleer dat die Here altyd goed, altyd geduldig en altyd faithful isJy kan jou rug honderde kere op hom draai, weier om na Sy stem te luister, probeer wegkruip vir ‘n ruk… Tog is Sy genade altyd genoeg en niks kan jou van Sy liefde skei nie.

Ek het geleer – en ek gaan beslis nou weer leer –  hoe om totsiens te sê vir mense vir wie jy bitterlik baie omgee. Almal spat in hulle eie rigtings na universiteit en dit is moeilik om mense saam met wie jy gebly het, saam met wie jy gesing het, saam met wie jy elke dag klasgeloop het, saam met wie jy ‘n bier en burger special geniet het – nie meer elke dag te sien nie. Universiteit is rêrig die plek waar jy jou lewenslange vriende maak. Ek het geleer hoe kosbaar dit is om mense in jou lewe te hê saam met wie jy die lewe kan geniet. Mense saam wie jy jou suksesse kon vier en by wie jy medelye (en wyn) kon ontvang na mislukkings. Dit is bande wat nie verbreek kan word nie – die lewenslesse wat ons saam geleer het verbind ons ten spyte van ons menigte verskille. I love you all. 

Ek sien geweldig baie uit na my nuwe avontuur, maar ek weet ek gaan terugkyk met soveel goeie herinneringe op my studentedae. Ek is gevul met absolute dankbaarheid vir alles wat ek kon leer en al die vriende wat ek kon maak (ek kan vir ewig aanhou skryf).

Maar vir nou het ek nog ‘n week daarvan oor. (En baie bokse wat nog gepak moet word.)

Weeklikse Wonders #3

Hier is my lys van Weeklikse Wonders!

Dit kan enigiets insluit: ‘n oulike ontdekking, ‘n ongelooflike ervaring of net die genot van alledaagse dingetjies in die lewe! Die verantwoordelikheid is op ons skouers om die mooi in die alledaagse te vind, of selfs die mooi in die lelike dae te vind. Dis ons eie verantwoordelikheid om skoonheid en inspirasie te vind in dinge wat vreemd of onvolmaak voorkom (dis juis in hierdie goed wat die interessante kant van die lewe lê!). Ons moet ons oë oophou om die vreugde in onverwagse dinge te vind sodat ons kan leer om te waardeer wat ons het. Dit is dan ook ‘n uitdaging om die mooi dinge in jou week raak te sien en te waardeer! 🙂

So kom ons kry eers die olifant uit die pad… Ja, ek het baie lanklaas iets neergepen en hierdie weeklikse wonders is ‘n hele paar weke overdue! Maar ek was vir ‘n rukkie oorsee, sonder internet en met te veel om te ervaar om stil te raak en te skryf. Daarom is hierdie blog meer ‘n Monthly Musings as enigiets anders.

1. Troues

Jip. My eerste weeklikse wonder is die wonder van ‘n huwelikserimonie. Ek beleef tans my kwarteeu en dus het ek troues omtrent elke tweede naweek. Alhoewel my beursie bietjie swaarkry, kla my hart nie. Met elke troue besef ek net daar is min dinge wat by ‘n troudag kan kers vashou. Daar is iets heiligs aan twee mense wat in die teenwoordigheid van vriende en familie voor hulle Skepper beloof om mekaar lief te hê soos Hy ons lief het. Elkeen van die troues wat ek al bygewoon het was anders in dekor, musiek, mense, venue, tradisies ens. ens., maar dieselfde in die besondere opsigte dat dit ‘n dag vol vars vreugde en vrolike feesvieringe was. Soos ‘n vriend van my sê, jy hoef niks te doen nie, maar jy stap doodgelukkig daar uit.

2. Amsterdam DSCN5184

Dalk was dit my Hollandse bloed of my liefde vir Nederlandse poësie. Dalk was dit die mooi, warm weer of die uitstekende geselskap. Dalk was dit die bitterballen en biertjes, of die Indonesian Cuisine. Dalk was dit ‘n stukkie solidariteit met Rembrandt en Van Gogh, of met geskiedenis en Anne Frank. Dalk was dit die onvergeetlike Heineken Experience of die ongelooflike Rijksmuseum. Dalk was dit die mense, die atmosfeer, die kultuur, die tulpe. Hoe dit ook al sy, Amsterdam het my hart gesteel.

“Hier is altijd mooier dan daar

Nu altijd belangrijker dan

Gister-straks-of-volgend-jaar”

3. Josh Groban se “Stages”

jg_stages_cvr_fnl

Wanneer jou pa jou so goed ken en die beste CD koop, dan word dit een van my weeklikse wonders. Al die snitte op die CD is afkomstig van een of ander uitstekende musiekblyspel. Ek is klein bietjie verslaaf op die oomblik. Maar kombineer my gunsteling sanger en my gunsteling musiekblyspel en dan kry jy my nuwe op “repeat” liedjie:

4. Girl with Cake

Wanneer jy met weerlose populasies werk, kom daar tye wanneer jy hoop in die mensdom verloor. Ek het juis so ‘n tydperk van wanhopigheid en frustrasie beleef toe iemand my na hierdie ongelooflike vrou se Instagram-account verwys. Op haar webtuiste kan jy die volle verhaal lees, maar basies maak sy pragmooie en heerlike koeke en deel dit uit aan iemand wat lyk asof hulle ‘n bietjie vreugde in hulle lewe benodig. Haar leuse is juis, Share the Love in Every CitySpread the love in your community – no matter how you choose to do it. En is dit nie immers soms al wat mens kan doen, maar ook al wat partykeer nodig is nie?  Deel net liefde uit, maak nie saak hoe liefdeloos die lewe vir jou begin lyk nie. Soos met die seester storie, maak jy dan ten minste ‘n verskil in een persoon se lewe. Raak jy ten minste een persoon aan. Wys jy ten minste vir een persoon dat hulle die moeite werd is om liefde te ontvang. Met elke liefdesdaad wat jy vir die (soms donker) wêreld wys, kom daar ‘n klein bietjie meer lig.

5. Bottomless Coffee en reën

As jy nog nie van hierdie band gehoor het nie, dan mis jy uit! Ek ken vir Lourens en Esté, die band members van Bottomless Coffee, sedert 2010. Dit was die jaar wat hulle verlief geraak het, aangehelp deur ‘n groot shared liefde vir musiek. Om te sê hierdie getroude, dinamiese duo is musikaal, is ‘n totale eufemisme. Ek het die voorreg gehad om een van hulle shows die afgelope week te gaan kyk in Die Boer en ekt net weer besef dat hulle absoluut fenominaal is. Tussen die twee van hulle, speel hulle ag instrumente, wat maak dat hierdie tweetjies ‘n volledige band vorm. Die hoof rede dat hulle hierdie week op my weeklikse wonders is, is oor ‘n nuwe liedjie wat hulle by Die Boer opgevoer het. Die lirieke sê basies dat liefde goed doen in die son, maar dit benodig wel die reën. Dit is juis wat ek met hierdie weeklikse wonders probeer doen. Ek wil die mooi in die lewe vind, al moet mens sukkel om dit te kry. Reëntye het ‘n ander tipe skoonheid daaraan gekoppel. Ja, die weer is nie perfek nie, maar dit was alles skoon en bring selfs ‘n reënboog vol beloftes daarmee saam. Ek was die laaste week gebombardeer met die seer van die wêreld en dan begin mens twyfel of jy met jou een seesterretjie ‘n verskil maak. Tog, ek glo ons moet aandag gee aan dit wat ons harte breek, want die kanse is goed dat dit is waar die Hemelse Vader wil hê ons moet dien. Dan moet jy begin vertrou op sy getrouheid en sy genade, al reën dit en die son voel ver.

Gaan loer gerus op Bottomless Coffee band se webtuiste!

Wat het vir julle uitgestaan hierdie afgelope week wat verby is? Wat was die reën en wat was die wonders?

Credit
Credit

Weeklikse Wonders #2

Hier is my lys van Weeklikse Wonders!

Dit kan enigiets insluit: ‘n oulike ontdekking, ‘n ongelooflike ervaring of net die genot van alledaagse dingetjies in die lewe! Die verantwoordelikheid is op ons skouers om die mooi in die alledaagse te vind, of selfs die mooi in die lelike dae te vind. Dis ons eie verantwoordelikheid om skoonheid en inspirasie te vind in dinge wat vreemd of onvolmaak voorkom (dis juis in hierdie goed wat die interessante kant van die lewe lê!). Ons moet ons oë oophou om die vreugde in onverwagse dinge te vind sodat ons kan leer om te waardeer wat ons het. Dit is dan ook ‘n uitdaging om die mooi dinge in jou week raak te sien en te waardeer! 🙂

1. Freedom of Movement – Original Leather Bags

#FOMbrand #theMarley
#FOMbrand #theMarley

Hierdié is definitief my vonds van die week. Freedom of Movement (FOM) is ‘n trots Suid-Afrikaanse maatskappy wat die mooiste leerprodukte vervaardig. Elke produk het sy eie naam en hulle poog om ‘n gees van vryheid en eie identiteit te koppel aan hulle produkte. Die foto hierbo is van my gunsteling produk, naamlik die Marley. Loer in by hulle webtuiste of besoek hulle op facebook.

2. Beerhouse

Hierdie lekker plekkie in Long Street is dalk nie vir my ‘n nuwe ontdekking nie, maar ek het wel hierdie week opnuut besef hoe mal ek is oor ‘n biertjie. (Veral as mens dit kan geniet saam met ‘n paar hartsvriende wat jy lanklaas gesien het). Die grootste probleem met hierdie kuierplek is dat jy moet kan besluit tussen hulle 99 besondere plaaslike en internasionale biere, terwyl jy eintlik almal wil probeer. Gelukkig is die manne agter die bar ongelooflik vriendelik en behulpsaam. Beerhouse het ‘n heerlike atmosfeer en ek beveel dit sterk aan! Hulle het ook ‘n kosspyskaart en vir dié wat nie so baie van ‘n biertjie hou nie is daar ook koffie en wyn!

Credit
Credit

3. Bredasdorp

My geliefde hometown. Ek het studieverlof vir die week, plus my moeder verjaar, so ek het besluit om vir my ouers te gaan kuier vir ‘n paar dae. “Hoe is hierdie dorp op jou lys van weeklikse wonders?”, kan ek sommer die mense hoor vra. Ons dorpie is al weer in die nuus. Bredasdorp word ‘n berugte plek. Nog ‘n kind is vermoor. Die berigte maak my so hartseer, want hierdie kleine plekkie aan die suidste punt van Afrika is waar my hart en wortels lê. Hier het ek groot geword en mens geword. Bredasdorp is een van die min plekke in Suid-Afrika waar die NG kerk en die VG kerk ‘n eenheid vorm. ‘n Plek waar wit en bruin hande gevat het omdat hulle weet hulle dien dieselfde God. ‘n God wat elkeen lief het en aangeneem het as sy kinders.

Bredasdorp is ‘n plek waar welaf boere sonder enige advertensie of publisiteit minder bevoorregte kinders se universiteitsgelde borg, waar ‘n seun ‘n fiets present kry toe iemand hoor hy hike/stap elke dag meer as 14km skool toe, waar ‘n gemeenskap hande vat en ‘n Cansa relay reël en meer as R100 000 insamel, waar ‘n reeds arm gesin nog ‘n kind aanneem want hulle weet hier gaan hy ten minste liefde in oorvloed ontvang, die Here sal sorg vir die res ens ens.

Soos ek help tee aandra in ons sitkamer vol verjaarsdag kuiergaste (wit, swart en bruin), luister ek hoe almal gesels oor hulle kinders en ander mense se kinders. En so kry ek sommer weer hoop vir ons dorpie. Soos Rachelle Greef skryf in Rondomskrik (gebasseer op die Anene Booyse gebeure): Ons moet net nie hoop verloor so tussen al die gangsters, die alkohol, die hop-huisies en die afwesige ouers nie. Daar is altyd hoop solank daar uitkyk-anties (of ooms) is wat kan help keer dat ons ons kinders faal. Bredasdorp is propvol deernis en hoop. Ons moet nou begin sorg, elkeen tot sy eie vermoëns dat alle kinders, nie net oorleef nie, maar vlerke kry.

Tot volgende week! (Wat het vir jou uitgestaan hierdie week??)

Weeklikse Wonders #1

Hier is my lys van Weeklikse Wonders!

Dit kan enigiets insluit: ‘n oulike ontdekking, ‘n ongelooflike ervaring of net die genot van alledaagse dingetjies in die lewe! Die verantwoordelikheid is op ons skouers om die mooi in die alledaagse te vind, of selfs die mooi in die lelike dae te vind. Dis ons eie verantwoordelikheid om skoonheid en inspirasie te vind in dinge wat vreemd of onvolmaak voorkom (dis juis in hierdie goed wat die interessante kant van die lewe lê!). Ons moet ons oë oophou om die vreugde in onverwagse dinge te vind sodat ons kan leer om te waardeer wat ons het. Dit is dan ook ‘n uitdaging om die mooi dinge in jou week raak te sien en te waardeer! 🙂 

1.  Om ‘n goeie blog te vind en te geniet!

The girl who had wanderlust

Ek is mal daaroor om myself te verloor in iemand anders se gedagtes en ervarings. Veral as dit oor reis gaan. Ek het êrens gelees dat ons nie reis om te ontsnap van ons lewens nie, maar omdat ons nie wil hê dat die lewe moet ontsnap nie. Hoe waar is dit nie? In elk geval, gaan loer bietjie hierna. Haar 5 things lately is ook dan my inspirasie vir Weeklikse Wonders! 

2. Die nuwe CD van die Universiteit van Stellenbosch Koor: I am the voice

I am the voice

The Stellenbosch University Choir is the oldest and most celebrated choir in South Africa. They are currently ranked 1st on the Interkultur World Ranking List for amateur choirs.

Ek is glad nie objektief nie omdat ek vir vier jaar vir hulle gesing het en helfte van die liedjies op die CD uit my kop uit ken, maar glo my – dis die koop werd! Kry ‘n idee daarvan hier. Bestel ‘n album by hierdie e-pos adres: adminfees@sun.ac.za. of skakel hierdie nommer (+27) 21 886 5036

3. Hierdie liedjie se lirieke…

“You split the seas so I could walk right through it. My fears are drowned in perfect love.”

Dis kragtig. Dit was beslis my battle song die afgelope week.

4. Om ‘n ou stokperdjie te herontdek!

IMG_20150425_143243Ek kan nie eers onthou wanneer laas ek ‘n verfkwas vasgehou het nie, maar om een of ander rede was dit al wat ek die afgelope week wou doen. Maar soos D. Uchtdorf sê: The desire to create is one of the deepest yearnings of the human soul. Ek dink persoonlik dat dit waar is omdat ons Skepper die ongelooflikste Skilder is wat bestaan en ons gemaak is in Sy beeld.  

Tot volgende week! (Wat het vir jou uitgestaan hierdie week??)

P.S Net ‘n gedagte vir die week. Sê nee vir vrese. Staan op teen jou vrese. Om ‘n vol, kreatiewe en gelukkige lewe te lei mag ons nie bang wees vir mislukkig nie.

Vrees. Ain’t nobody got time for that.