Aan ‘n kleurvolle ma

Moedersdag. ‘n Dag om die spesiale mens wat aan jou geboorte geskenk het te eer. Ek is redelik seker dat die meerderheid van die populasie doodseker is hulle het die beste moeder in die wêreld, maar om eerlik te wees, ek het met my gat diep in die botter geval. Ek het die tipe ma wat as ek huis toe bel en vra of daar dalk ‘n leë roomysbak is wat rondlê vir terapie-doeleindes, die arme persoon wat dit vir my moet bring met ’n swartsak vol roomysbakke opdaag. Moeder het dan omtrent al die dorpsmense uit hulle leë roomysbakke gecharm. Ek vra vir ‘n sekere kinderboekie oor troeteldiere wat ek weet in die buitekamer lê… Drie plastieksakke vol boeke oor wilde diere, troeteldiere, plaasdiere, seediere you name it word by my afgelewer. My jonger sussie noem so in die verbygaan vir Moeder dat sy ‘n taak het oor Egipte. Dis nie ‘n paar uur nie en die hele biblioteek se versameling boeke/artikels/koerantberigte oor Egipte (en sommer al die buurlande) lê op haar bed.

Ek moet in my derdejaar ‘n dans reël en wonder half hardop hoe ons enigsins iets kan bereik met die klein begroting. Twee weke later bel Moeder. Die plaaslike wynplase het meer bottels wyn geskenk as wat omtrent toegelaat word by die dans. Menigte verjaarsdae sal haar vriendinne my beetkry en sê “Ek het ‘n voucher by Foshini vir jou ma gegee. Maak asseblief seker sy spandeer dit op haarself dié keer?”. Teen hierdie tyd is ek ook al doodversigtig om my ma in te lig wanneer my geldsake bietjie beroerd lyk. Ek weet sy sal haar hele salaris vir my oorbetaal as sy hoor, sonder om natuurlik twee keer te wonder oor wat sy dan sal doen sonder dit. My ma gee en doen alles in oorgawe. Geen pretensies en geen agendas. Nie net vir dié wat sy ken nie, maar ook enigiemand wat gelukkig genoeg is om oor haar pad te kom.

Ek het die tipe ma wat mense so inniglik lief het dat niemand imuun is teen haar deel-met-my-aura nie. Ek onthou een dag wat my ma vir my kom kuier het by Nerina, my universiteitskoshuis in Stellenbosch. Ek moet gou ophardloop na my kamer om iets te kry en my ma besluit om onder te wag. Saam met haar is drie manne wat wag vir hulle ander helftes. Met my handsak weer in my hand, kry ek Moeder onder en vra haar of sy reg is vir ons lunch-date. Op pad kar toe groet sy die manne: “Chris, sterkte met daai belasting eksamen. Pieter, wees sag op haar hart ne? Totsiens, Willie, geniet die naweek in Hermanus!” Ek kyk verward na my horlosie, maar ek was skaars 10 minute weg.

My pa vertel dat hulle langs ‘n nors Duitse omie op ‘n boot beland op hulle Europese vakansie. Die begin gesprekke het omtrent so verloop:

Mamma: Hallo, are you on holiday as well? Omie: Yes.

Mamma: It’s beautiful here isnt it? Omie: Yes.

Mamma: Is it just you and your wife? Omie: Yes.

Mamma: Do you have any kids? Omie: Yes.

Aan die einde van die bootrip sit Moeder en die omie heerlik aan die gesels terwyl hy met sy selfoon vir Moeder al sy kinders en kleinkinders wys en elkeen se lewensverhaal vertel. Hulle klim as boesemvriende van die boot af.

Die kinders vir wie sy al skool gegee het noem haar nie verniet Juffrou Liefie nie. Sy stap ook nie sommer in ‘n winkel in en kom vyf minute later uit met die brood wat sy moes koop nie. Sy is dalk baie kort, maar jy kan haar nie mis. Meeste van die tyd omdat haar hippie/artist gees haar in reënboogkleure (en -klere) verf waarvan die een nie noodigwendig by die ander een hoef te pas nie (ook nie noodwendig die een oor se oorbel by die ander een nie.) Maar jy kan haar nie mis nie want haar hele persoonlikheid nooi jou nader. Soos motte beweeg mens nader aan die lig, omdat sy die Lig uitstraal.

My tannie vertel dat die Hollanders in hulle klein Hollandse dorpie nie gewoond is aan drukkies nie, maar na my ma daar weg is kry hulle ontrekkingssimptome van die kort vroutjie met die krulhare wat hulle net beetkry. “Ek ken nie eers so baie mense in Haren soos jou ma nie en ek bly al 14 jaar hier” terg my tannie. My ma se beste vriendin beaam: “Ja, daai Hollanders is deur ‘n drive-through ministry met jou ma.”

Ek kon dit nie beter opgesom het nie. Mense kan nie my ma ontmoet en nie oorweldig word deur Christ-like, onvoorwaardelike liefde en omgee nie. Nog nooit het ek my ma iets slegs hoor sê van iemand nie. Nog nooit het ek my ma iemand in nood sien ignoreer nie, al is dit net vir ‘n gebedjie wanneer sy nie iets konkreets kon gee nie. Tog het ek haar ook gesien al haar laaste sente gee vir iemand, alhoewel daai sente dit nog tot by Spar moes haal vir een of ander benodigheid. Geïriteerd sal ek dan vra “nou wat nou Mamma?”, waar sy altyd doodrustig sal antwoord dat die Here sal voorsien. And He always did. My ma het ‘n kinderlike geloof en vertroue in haar Hemelse Pappa wat ek beny en elke dag nastreef.

Ons spot ook gereeld dat sy definitief ‘n direkte lyn het na die Here. Menigte pelle het my al gebel en gesê dat hulle ‘n groot eksamen het so kan ek asseblief my ma vra om te bid. Baie gesprekke in my universiteitsloopbaan het ook al so verloop: “Mamma, Vrydag se eksamen is maar ‘n bulletjie!” “Ag nee wat liefie, ons bid hom tot n verskalfie…” My jongste sussie bel my ook nou die dag en kla: “Mamma het nou net in Jet besef Niggie moet haar lisensie kry vandag en toe begin sy kliphard bid! In Jet! Ek het nie ‘n probleem met bid nie, maar kliphard in Jet?!” Ek lag heerlik en verseker haar dat sy eendag nog baie dankbaar gaan wees vir hierdie klipharde bidsessies. Hierdie direkte lyn het ook al menigte kere gemaak dat Mamma op die regte tye bel en al die regte vrae vra. Die Heilige Gees het in haar ‘n gewillige instrument gevind om ander by te staan wanneer hulle dit nodig het.

Al kan ek skaars ‘n fliek se dialoog hoor wanneer ons dit saamkyk, of al eet Mamma al die icing van ‘n koek af, ek is trots om jou kind te wees. Ek is trots op die feit dat almal sê hoe dieselfde ons lyk en klink en dat Facebook my heeltyd wil tag as Mamma. As ek die helfte kan word van wat Mamma is, sal ek dankbaar wees. Ek is trots op die feit dat my vriende kom kuier by die huis en met die pad terug net heeltyd ons familie-dinamika bewonder. Dit spreek boekdele oor hoe ons grootgemaak is. En hoe dan anders met die definisie van liefde en Liefde saam met ons in die huis. Geseënde Moedersdag my merkwaardige Mamma xx

374578_10150403126352060_1172586738_n

5 thoughts on “Aan ‘n kleurvolle ma

Lewer kommentaar